Friday, December 28, 2012

Soos Hy Hom van ewigheid af voorgeneem het ...


Dag 50 - 'n Derde groep mense
'n Direkte aanhaling vanaf http://nuwewyn.co.za deur Christo Nel


1 Kor. 10:32 bevat 'n monumentale Bybelse waarheid as daar staan: "Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie."
Voor Christus Jesus se koms na hierdie wêreld as 'n mens, het die hele wêreld vir die Jood net uit twee groepe mense bestaan: Jode en heidene.

Nou kom Paulus in hierdie vers en sê dat met die koms van Christus Jesus, en na alles wat Hy gedoen het, het daar 'n derde groep bygekom, naamlik die Ekklesia of Kerk van Jesus Christus.

Om die rede het die Christene van die tweede eeu hulleself 'n derde "ras" of "nuwe menslike ras" genoem.

Hulle het verstaan dat hulle "in Christus" nie meer in die eerste plek Jood of mense uit die heiden-volke was nie. Hulle was nou 'n nuwe spesie: Jesus Christus se Liggaam op aarde. En hierdie Liggaam van Jesus was nou die restourasie van die oorspronklike plan en beeld van God wat Hy met die eerste skepping hier geskep het.
In hierdie "nuwe beeld" gaan dit nie meer daaroor of jy 'n Jood of uit 'n ander nie-Joodse volk oorspronklik kom nie. Dit gaan ook nie daaroor of jy 'n man, of 'n vrou, of 'n slaaf of vry was nie. (Gal. 3:28)

'n Nuwe nie-rassige gemeenskap is geskep waar al hierdie lyne wat normaalweg soveel spanning veroorsaak as dit oorbeklemtoon word, skielik stippellyne word wat nie meer mense in hierdie nuwe gemeenskap hoef te verdeel nie.
Nou is die enigste verskil tussen mense in hierdie nuwe gemeenskap die verskillende gawes van die Gees wat deur elkeen van ons opereer en vloei (kyk 1 Kor. 12 en Rom. 12).

Die Kerk van die Here Jesus, soos dit in elke dorp of stad lokaal teenwoordig is en opereer - maar ook soos dit wêreldwyd teenwoordig is en opereer - is nou deel van die een Liggaam van Jesus in elke dorp of stad wêreldwyd.

Deur God se mense in elke dorp of stad bedien Jesus nou self daardie dorp of stad se mense. Deur Sy mense daar kan Jesus die mense in daardie gemeenskap liefhê of bedien.
Dit is ook hoe elkeen van ons, as God se mense, gaan beleef hoe Jesus as die opgestane Here, ook ons gaan liefhê, bedien en selfs met ons praat.

As ek en jy dit verstaan, gaan daar skielik 'n nuwe verstaansdimensie oop rondom die bekende woorde van Jesus daar in Hand. 1:8. Hy het immers toe gesê dat ons deur die krag van die Gees "Sy getuies" gaan word daar waar ons lokaal woon, maar ook wyer, dwarsoor die wêreld.

In die mate wat ons beskikbaar gaan wees as Liggaam van Jesus in mekaar en ander se lewens, in daardie mate gaan die "onsigbare" maar lewende opgestane Here Jesus Christus Homself lewende vertoon aan mense.

Ef. 3:10 en 11 gaan selfs 'n tree verder as daar staan: "Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring."

Deur ons teenwoordigheid en aksies as die Liggaam van Jesus daar waar ons mekaar en ander deur die gawes van die Gees bedien, gaan selfs die onsigbare demoniese magte beleef dat Christus Jesus opgestaan het as die Oorwinnaar oor alle magte en dat Hy alleen die Here en die Koning is.

No comments:

Post a Comment