Tuesday, October 13, 2015

Alles is nuut - Genade nuut oorgesê

Ek deel graag die stukkie deur Christo Nel:



Alles is Nuut – Genade nuut oorgesê
Ek geniet dit so as iemand iets oor God en die Evangelieboodskap sê wat vars en nuut is en wat dinge so oopbreek dat jy wens jy het dit eerste so raakgesien.
Daarom het ek dit so geniet toe ek nou die dag lees hoe die uitgesproke gelowige, Bono, die verskil uitwys tussen mense wie se verhouding met God op “karma” gebou is teenoor ander wat verstaan dat die hart van ’n werklike Bybelse verhouding met die God van die Bybel suiwer genade is.
As jou verhouding met God op karma gebou is, dan probeer jy heeltyd God gelukkig hou deur hierdie klompie wette te onderhou en daardie feeste te vier om deur God geseën te word.
Dan kry jy net uit wat jy insit.
Dit is soos daardie Ou-Testamentiese beginsel van ’n tand vir ’n tand. Alle seën in jou lewe is dan die gevolg van jy wat die regte goed doen.
Terwyl ek dit lees, sien ek so voor my soveel van my goeie, tradisionele Afrikaner vriende en familielede.
Dan loof ek die Here dat Hy my daaruit gered het, want ek was ook daar.
Goddank, ek het iets raakgesien van wat Paulus hier in Romeine 5:1 en 2 van skryf. Ek haal hierdie twee verse uit die nuwe Direkte Vertaling aan: “Omdat ons dan uit geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons ook in die geloof toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.”
Kom ons pluis ’n bietjie die heerlike geestelike vleis uit wat hier staan.
Bybelse geloof is nie werk nie. Dit is soos die leë hande van ’n bedelaar wat in groot dankbaarheid die geskenk van genade vat wat ons Hemelse Vader ons aanbied in Christus Jesus.
Ons weet ons het niks om daarvoor te betaal nie. Ons kan net die nuwe lewe vasgryp wat God ons in Christus Jesus aanbied.
Dit is wat hierdie geskenk van genade in werklikheid is. Dit is ’n nuwe lewe in Christus Jesus aan iemand wat voorheen dood was.
Gryp jy dit vas in geloof, bedien God se Gees hierdie nuwe lewe aan jou, begin dit bruis in jou gees en begin hierdie nuwe lewe deur jou siel en liggaam te borrel om stelselmatig jou alles te genees en te begin heelmaak.
Daar waar jy vasgevang is, wil en kan dit jou volkome verlos. Daar waar jy honger en dors is, kan dit jou honger stil en jou dors les. Daar waar jy sonder hoop is, bedien God se beloftes in Jesus Christus jou met nuwe hoop. Daar waar jy God se Gees toelaat, bewerk Hy liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing; die vrug van die Gees met ander woorde.
Daarom breek hierdie vrede in jou deur, want jy hoor hoe hierdie selfde Gees van God hierbinne ín jou jou verseker dat jy nou God se kind is en dat Sy genade in Christus geheel en al vir jou op alle vlakke genoeg is.
Toe jy in geloof ja gesê het vir God se geskenk in Jesus, het jy vir altyd ononderbroke toegang verkry tot God se stoorkamers wat propvol van al die genade geskenke staan wat nou ook joune is in Christus Jesus.
Deur hierdie geloof het God se Gees ook jou oë oop laat gaan vir hierdie God wat jou Vader geword het in Christus Jesus en hoor jy Hy is van nou af altyd, ononderbroke, vir ewig, jou God en Vader, jou Hoop!
Geloof is hierdie leë hande waarmee jy soos ’n bedelaar wat weet hy kan nie betaal vir wat hy hier aangebied word, die geskenk in God se hande net dankbaar vasgryp omdat Hy gesê het dit is ook vir jou!