Friday, December 28, 2012

Die Nuwe Jerusalem - vir gelowiges uit al die koninkryke op aarde



Johannes beleef die aankondiging van die nuwe Jerusalem, waar God teenwoordig is. Die nuwe stad waarin die gelowiges sal bly en waar die heerlikheid van God die lig sal verskaf. Die stad waar die ongelowiges nie toegelaat sal word nie. Die 12 fondamente met edelgesteentes versier, is die 12 apostels van die Lam en die 12 poorte wat uit enkel pêrels bestaan, is die twaalf stamme van Israel.

Dan gaan die engel voort om te beskryf hoedat dié wat gered is uit die nasies (ethnos) die stad sal bewoon. Daar is geen verwysings na die volk van God nie, of dat dit nou net die fisiese afstammelinge van Israel is nie. Verskeie kere word gesê dat elkeen wat glo, wat die Woord aangeneem het, wat gedrink het uit die stroom van lewende water, wat in geregtigheid voor God is, sal deel in die Nuwe Jerusalem.

Die Lam is nou die Koning van al die koninkryke van die wêreld (kosmos) (Openb 11:15).

Openb 21:24-26 En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin. En bedags, want nag sal daar nie meer wees nie, sal sy poorte nooit gesluit word nie; en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring.

Die konings of heersers van die nasies op die aarde sal Hom eer bring. Dieselfde nasies aan wie die engel in Openb 14:6 die Goeie Nuus gebring het, elke stam en taal en volk en nasie – die syfer 4 wat dui op die volledigheid van die aarde.

God se plan vir die wêreld word voltooi in die Nuwe Jerusalem!

No comments:

Post a Comment