Saturday, December 29, 2012

Geheimenis van God



Die woord geheimenis dra so iets van ‘n misterie in hom. Dit is iets wat meer is as net ‘n geheim. Dit is ‘n spesiale geheim wat net God verstaan. 

Paulus praat van so ‘n geheimenis in die brief aan die Efesiërs. Efesiërs 2 (NLV):
3 ’n Geheime plan is deur openbaring aan my bekendgemaak. Oor dié geheime plan het ek hierbo kortliks geskryf. 4 Deur dit te lees kan julle ’n begrip vorm van my insig in die geheime Christusplan. 5 God het hierdie geheime plan nie in vorige geslagte aan mense bekendgemaak nie, maar nou het Hy dit deur die Gees bekendgemaak aan die apostels en profete wat aan Hom toegewy is.
6 Dié geheime plan is dat die nie-Joodse nasies deur Christus Jesus saam sal deel in die erfenis van God se volk, dat hulle saam lede van dieselfde liggaam is, en saam deel het aan die beloftes wat op grond van die Goeie Nuus verkry word. 7 Uit genade het God my die gawe gegee om ’n dienaar van hierdie Goeie Nuus te word. Die gawe is aan my gegee deur die werking van God se krag. 8 Aan my, die heel onbelangrikste van al God se mense, is hierdie genade gegee om aan die nie-Joodse nasies die onmeetlike rykdom van Christus te verkondig! 9 Ek moet vir almal duidelik maak hoe God, die Skepper van alle dinge, die geheime plan uitvoer wat nog altyd verborge was.


Die agtergrond van die brief is dat daar in Efese twee groepe in die gemeente was. Die Jode in diaspora wat Christus aanvaar het en ook nie-Jode wat tot geloof in Christus gekom het. Nêrens word die nie-Jode nader beskryf nie. Vir Paulus was dit almal wat nie Jode van sy tyd was nie. Jode is dus die oorblywende stamme van Israel en nie-Jode was in hierdie gevalle die Grieke. In Paulus se brief word God se groot genade dan beskryf wat op beide groepe van toepassing is. Die kern daarvan is seker dat hulle in liefde met mekaar moet saamleef en nie verdeeldheid bring nie, want daar is één God, één Here en één Gees.
Die spesiale geheim waarvan Paulus praat noem hy ‘n paar keer in Efesiërs 3 en 4. Gaan lees dit gerus in meer as een vertaling. Hy beskryf dat God dit aan Hom geopenbaar het wat Hy nog nooit voorheen openbaar het nie. Ons kan dus nie sê dit word in die Ou Testament voorspel nie! Dit is ‘n nuwe openbaring wat vir die eerste keer deur Paulus ontvang is.
Die geheimenis is dat God se genade bedoel is vir Jood en nie-Jood. Is dit al? Dit klink miskien baie klein, veral omdat ons dit al so lank weet, maar die konsekwensie daarvan is dat God se plan juis is dat die hele wêreld (soos in Openbaring herhaal word) Sy genade kan ontvang. God se plan het met Christus se koms, kruisdood en hemelvaart hierdie geheimenis tot vervulling laat kom. Dit het moontlik geword met die skeur van die voorhangsel dat in die Nuwe Verbond enige persoon wat glo nou kind van God genoem kan word.

God het gekies dat Hy deur Sy kinders wil lewe en dat Hy in Sy kinders wil wees. Hy het die wonderlike geheimenis met ons almal gedeel sodat ons, sonder om te wonder of ons nou afstam van een van die stamme van Israel af of nie en of ond bloed suiwer is of nie, kan deel hê in Sy genade.

In die boek waarsku hy ons verder dat ons juis nie oor onbenullighede moet kibbel nie, maar dat ons ons moet oop stel dat God in en deur ons kan lewe.

No comments:

Post a Comment