Friday, December 28, 2012

Betekenis van ethnos (vertaal as nasies/heidene) en Grieke



"Kanselleer die woord 'heiden' totaal in die Nuwe Testament. Skryf daar in wat daar staan in die oorspronklike taal: ethnos of ethne (meervoud) - nasies. Gaan kyk dan in die teksverband, hoofstukverband of boekverband, watter nasie ter sprake is: 'n heidense nasie, 'n swart nasie, 'n blanke nasie, 'n bont nasie of watter nasie ook al, maar dan kan u dit eers spesifiseer. Wie was die vertalers wat so iets kon aanvang, wat nie konsekwent kon bly nie? Die een plek skryf hulle die woord ta ethne, 'die nasies', die ander keer skryf hulle 'die heidene'. Die Engelse Bybel het drie begrippe vir die woord. Waarom? Om verwarring te veroorsaak. Dat die kerklike geleerde wêreld nie by die magtige, heerlike waarheid kan uitkom nie, kan ek nie begryp nie. As ons oral waar ons 'heiden' in die Bybel lees, dit doodgetrek het en nasies geskryf het, kan ons gaan aflei uit die konteks, was dit Israel-nasies of nasies buite Israel? Maar dit is 'n studie op sy eie." Hierdie is 'n direkte aanhaling uit die dokumente van die Gemeente van die Verbondsvolk.

Die definisies van nie-Jode en Heidene soos wat dit in die Nuwe Testament gebruik word, word geïnterpreteer as synde afstammelinge van die verlore volke te wees. Heidene is 'n foutiewe vertaling in die Bybel en moet deurgaans vervang word met "nasies". Dan moet "uit die konteks afgelei word" wat dit beteken.

Die feit dat Jode ook nie 'n korrekte vertaling is nie en eintlik met Judeër vervang moet word, maak nie 'n groot impak op die verstaan van die Woord nie. Met Jode word algemeen aanvaar dat dit Judeërs of Benjamiete kan wees van die twee stammeryk wat oorgebly het. Omdat die tien stammeryk op die stadium van die Nuwe Testament nie meer bestaan het nie en verstrooi is onder ander nasies, word nie-Jode nou egter geïnterpreteer as slegs nie-Judeërs (en seker dan ook nie-Benjamiete). Dit is dan teenstrydig met die begrip dat nie-Jode verwys na enige persoon wat nie 'n Jood is nie. Vir die Israelwaarheid verwys 'n nie-Jood (of nie-Judeër) slegs na die 10 stammeryk van Israel wat verdwyn het. Terloops, die huidige inwoners van die staat Israel is volgens hulle Jode, maar nie Judeërs nie. Dit is mense wat later teruggekeer het Israel toe, maar wat nie deel van die Israel-nasies is nie.

Indien Jesus se uitspraak, dat Hy slegs gekom het vir die kinders van Abraham, waar is, sou Paulus dan 'n leuenaar wees en daarom moet noodwendig alle uitsprake van Paulus in die NT wat die woord ethnos gebruik, verwys na die huis van Israel – na bewering die tien stammeryk waarvan God geskei het. Dit maak glo die grootste deel van die bevolking van Griekeland uit nadat hulle 400-500 jaar voor Christus daarheen uitgewyk het. Paulus se verwysings na Grieke en Jode word dan op hierdie wyse verklaar. Daar word nie kommentaar gelewer oor die Romeine se herkoms nie, behalwe dat waar die Bybel dan sou verwys na Romeinse christene dit dan ook moes kom uit fisiese afstammelinge wat onder die Romeine verstrooi is. Hoe daar bepaal word wanneer 'n persoon dus 'n afstammeling is of nie, word nêrens beskryf nie, behalwe om te sê dat die Heilge Gees slegs in die regte Israeliete sal werk om te antwoord op die roepstem van Jesus. Hoe die apostels en Paulus dit verstaan het word nêrens aangeraak nie.

Hierdie manipulasie van die betekenis regverdig dan ook die bewering dat geestelike kinders van Abraham slegs verwys na fisiese afstammelinge van Abraham. Sover ek kon agterkom is daar geen verwysings dat hulle dit so sou interpreteer nie.

Hiermee word die Nuwe Verbond van God en die radikale veranderinge wat in die Nuwe Testament ingelui is, in 'n groot mate ontken. Waar daar in die NT dan na "alle mense" verwys word, word die konteks dan so aangepas dat dit slegs verwys na die ou 12 stamme. Die verwysings in Jesaja na die plan van God waar alle nasies op die ou end God sal dien en dan die vervulling daarvan in Openbaring met talle versywings na die nasies wat dui op die totale mensdom en nie net op Israel nie, word buite rekening gelaat.

Hier volg nou enkele verwysing na Skrifgedeeltes:
Hand 17:26: En Hy het uit een bloed al die nasies (ethnos) van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon. Ethnos word hier duidelik vir alle nasies op aarde gebruik.

Matt 24:30 En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme (Phule) van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. Dieselfde woord as in Openbaring 14:6 – En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke. (ethnos en phule)

'n Verdere perspektief:

Is DOOD en LEWE respektiewelik in die onderstaande Skrifgedeeltes slegs op Jode of op die hele mensdom van toepassing?

Romeine 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het

Romeine 5:18 Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. (Anthropos)

Alle mense is veroordeel weens sonde en alle mense kan regverdiging verkry deur geloof. Let ook op die gebruik van besny teenoor onbesny – Jode is besny en nie-Jode is nie besny nie.

Romeine 3:21 - 31: Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet. Of behoort God net aan die Jode(Judeërs), en nie ook aan die heidene (ethnos) nie? Ja, ook aan die heidene(ethnos), aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof. Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.

No comments:

Post a Comment