Friday, December 28, 2012

Galasiërs 3 en die saad van Abraham


Paulus stel in sy brief aan die Galasiërs die vrymaking van die wet aan die orde. Die krag en belangrikheid van geloof as die enigste faktor om kind van God te word en deur Christus vergifnis te ontvang en dan vrygespreek te word van die wet. Tesame daarmee kom die beginsel dat vrymaking van die wet dan nou juis die nasies wat nie voorheen aan die wet onderworpe was nie ook insluit.

Abraham het tot geregtigheid voor God gekom deur sy geloof en die verband word nou verder deurgetrek na die nuwe tydvak wat aangebreek het met Christus se kruisdood. (vers 6)

Die wat uit die geloof is, dws die wat bely volgens Fil 2:11 Christus is die HERE (Jahwe), is kinders of dan van die nageslag, van Abraham. (vers7)

Die Skrif het vooruit gesien (vers 8) dat die nasies hier verwys na nasies buite Israel. (Vergelyk Gen 12:3 en Hand 3:25, kyk onderaan)

Die saad van Abraham waarna verwys word (vers 16), word hier duidelik verklaar as Christus self. Christus het uit die saad van Abraham gekom soos beloof is. Hy is die tweede Adam.

Die wet was die rigtingwyser na God toe. In die Ou Verbond het die gehooorsaamheid aan die wet die bepalende rol gespeel. (vers 24)

Maar nou het geloof gekom, geloof in Christus en dat Hy ons straf op Hom geneem het, en so die wet vir ons vervul het. (vers 25)

Kinders van God deur die geloof in Christus. Daar is geen byvoegings of voorwaardes nie. (vers 26)

Almal is een (dieselfde) in Christus. Vir die Jood (Judeër van daardie tyd) het die Huis van Israel nie meer bestaan nie. Dit was volgens die Skrif vernietig en het van die aarde verdwyn soos wat duidelik in Hosea gesê word sal gebeur. Vir die leser van hierdie brief is die Griek dus nie 'n Jood nie en dus van 'n ander nasie as die huis van Juda. Dit gaan dus hier oor die wyer perspektief as net Judeërs. (vers 28)

Nou kom die versekering dat deur aan Christus te behoort, in Hom te glo, is julle (Jode en Grieke) die nageslag van Abraham omdat hulle dit deelagtig word deur Christus wat volgens belofte uit die saad van Abraham gekom het. (vers 29)

Die baie verwysings in die Bybel dat Abraham se nageslag of saad dan kinders van God sal wees (vers 8), word deur Jesus Christus volbring en maak Hy kindskap nou oop vir die nasies. As ons nou Openbaring se verwysings na die volledige wêreld wat deur die vier elemente van stam, taal, volk en nasie verteenwoordig word, lees, dan verstaan ons die belofte aan Abraham. In Genesis 12:3 praat die HERE met Abram: "En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word". Ander vertalings praat van "all families of the earth" of "everyone on earth will be blessed because of you". Dan word die aanhaling van die verbond met Abraham in Hand 3:25 herhaal: "en in jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën word." Dit word ook vertaal as "Through your descendant all families of the earth will be blessed" of "All nations on earth will be blessed on earth because of someone from your family" of "And in thy seed shall all the kindreds of the earth be blessed." Daardie saad is Christus waardeur al die nasies geseën word. Christus is die Lig vir al die nasies tot aan die eindes van die aarde (Hand 13:47).

No comments:

Post a Comment