Monday, April 18, 2016

Gemeenteleier of manipuleerder?

Om vasgevang te wees in 'n gemeente waar die gemeenteleier begin eienskappe vertoon van 'n leier wat sy volgelinge deur denkbeheer ("mind control") gevange hou, ontneem jou van die vryheid wat daar in Christus is.

Die grootste gevaar is dat jy dit nie herken nie omdat jy reeds vasgevang is in die denkpatroon van die gemeenteleier. Daar is verskeie gedragsparone waaraan jy kan herken dat jy ingesuig is onder die beheer van 'n leier wat emosionele en denkbeheer (mind control) aanvanklik onbewustelik toepas en later tot 'n fyn kuns ontwikkel. Dit is 'n uiterste vorm van manipulasie. Enkele gedragspatrone is soos volg (opgeteken by 
http://energeticsinstitute.com.au/narcissistic-group-dynamics/ ): 'n veranderde persoonlikheid; 'n verwerping van ou vriende, gesinslede en familielede; 'n nuwe taal met woorde met nuwe betekenisse, 'n geslote vriendekring wat almal gekoppel is aan die leier; 'n verwerping van alle kritiese bevraagtekening en betwyfeling van die leier; 'n gewilligheid om alles wat die leier versoek te doen; haat eenoor almal wat die leier kritiseer; 'n geloof dat daar 'n donker verskuilde agenda is om die leier te ontbloot; 'n geloof dat kritiek op die beheer van die leier sal uitloop op erge teenspoed; die prysgawe van jou eie onafhanklike denke met die leier as die enigste bron van oplossings vir emosioenele en ander probleme; slegs die leier se mening is relevant en betekenisvol.
Ek wil hierby byvoeg 'n ontkenning van jou afhanklikheid en beinvloeding van die leier.

Binne 'n gemeentelike verband is die gevaar wat natuurlik nou voorkom dat die gemeenteleier sy eie gedrag baie maklik regverdig uit die Skrif. Die dogma wat in die gemeente gepredik word, spruit moontlik uit die sosiale omstandighede van die gemeentelede wat leef in die onsekerheid en bedreiging van die politiek van die dag. Daar is oorgenoeg wette en voorskrifte in die Ou Testament waaraan die ou Israel onderworpe was. Dit is baie maklik om êrens 'n Skrifgedeelte te vind om enige denkpatroon en gedrag te regverdig.

As daar dus staan jy moet iemand tugtig omdat so iemand nie gehoorsaam is nie, dan kan jy maar jou vrou slaan. Dit is nie die prediker wat so sê nie, maar die Skrif skryf dit voor. Selfs al is jy die predikant - of dalk juis omdat jy die gemeenteleier is moet jy die voorbeeld stel en jou vrou tugtig. As dit dan lei tot 'n skeisaak word dit toegeskryf aan die vrou wat ongehoorsaam was en daarom kom die predikant ongeskonde daarvan af.

Voor die fisiese kom natuurlik die emosionele manipulering om eers jou bande met jou eie familie te verbreek - al is dit selfs jou eie ouers omdat hulle nie gehoorsaam is aan die wette van God nie. Die doel van die verbreking van familiebande (en so ook enige sosialisering met sogenaamde ongelowiges) is tweërlei: eers om te verhoed dat gemeentelede nie blootstelling kan kry enigeiets wat moontlik kan verskil van die gemeenteleier se predikeing nie en andersyds om die emosionele afhanklikheid van die gemeente en die gemeenteleier te bevorder.

Die gemeenteleier se eie gedrag spruit na alle waarskynlikheid uit sy eie huis en agtergrond en dit waaraan hy blootgestel was as kind. Dalk was hy self onderhewig aan 'n dominante vader wat homself skuldig gemaak het aan mishandeling - beide fisies en emosioneel. Omdat die sielkundige ontleding baie gevaar kan inhou vir die gesag van die gemeenteleier word sielkunde natuurlik ook as taboe vir die gemeente beskou en mag hulle nie daardie kennis gebruik nie omdat hulle dan begin om die Skrif te wantrou en nie te gehoorsaam nie en dus nie lojaal aan die gemeenteleier en sy prediking te wees nie.


Die gemeentelede word gebind deur die denkraamwerk en word vasgevang in die sosiale raamwerk sonder blootstelling aan die buite wêreld. Christus het egter gekom om ons vry te maak van al die negatiewe bande wat ons bind en bied aan ons 'n lewe in oorvloed. Hy wil ons verlos uit die kloue van die dogma, denkpatrone en denkbeheerders waardeur ons gevange gehou word. Hy wil God se Liefde deur ons lewe.

No comments:

Post a Comment