Showing posts with label Wettisisme. Show all posts
Showing posts with label Wettisisme. Show all posts

Monday, April 18, 2016

Gemeenteleier of manipuleerder?

Om vasgevang te wees in 'n gemeente waar die gemeenteleier begin eienskappe vertoon van 'n leier wat sy volgelinge deur denkbeheer ("mind control") gevange hou, ontneem jou van die vryheid wat daar in Christus is.

Die grootste gevaar is dat jy dit nie herken nie omdat jy reeds vasgevang is in die denkpatroon van die gemeenteleier. Daar is verskeie gedragsparone waaraan jy kan herken dat jy ingesuig is onder die beheer van 'n leier wat emosionele en denkbeheer (mind control) aanvanklik onbewustelik toepas en later tot 'n fyn kuns ontwikkel. Dit is 'n uiterste vorm van manipulasie. Enkele gedragspatrone is soos volg (opgeteken by 
http://energeticsinstitute.com.au/narcissistic-group-dynamics/ ): 'n veranderde persoonlikheid; 'n verwerping van ou vriende, gesinslede en familielede; 'n nuwe taal met woorde met nuwe betekenisse, 'n geslote vriendekring wat almal gekoppel is aan die leier; 'n verwerping van alle kritiese bevraagtekening en betwyfeling van die leier; 'n gewilligheid om alles wat die leier versoek te doen; haat eenoor almal wat die leier kritiseer; 'n geloof dat daar 'n donker verskuilde agenda is om die leier te ontbloot; 'n geloof dat kritiek op die beheer van die leier sal uitloop op erge teenspoed; die prysgawe van jou eie onafhanklike denke met die leier as die enigste bron van oplossings vir emosioenele en ander probleme; slegs die leier se mening is relevant en betekenisvol.
Ek wil hierby byvoeg 'n ontkenning van jou afhanklikheid en beinvloeding van die leier.

Binne 'n gemeentelike verband is die gevaar wat natuurlik nou voorkom dat die gemeenteleier sy eie gedrag baie maklik regverdig uit die Skrif. Die dogma wat in die gemeente gepredik word, spruit moontlik uit die sosiale omstandighede van die gemeentelede wat leef in die onsekerheid en bedreiging van die politiek van die dag. Daar is oorgenoeg wette en voorskrifte in die Ou Testament waaraan die ou Israel onderworpe was. Dit is baie maklik om êrens 'n Skrifgedeelte te vind om enige denkpatroon en gedrag te regverdig.

As daar dus staan jy moet iemand tugtig omdat so iemand nie gehoorsaam is nie, dan kan jy maar jou vrou slaan. Dit is nie die prediker wat so sê nie, maar die Skrif skryf dit voor. Selfs al is jy die predikant - of dalk juis omdat jy die gemeenteleier is moet jy die voorbeeld stel en jou vrou tugtig. As dit dan lei tot 'n skeisaak word dit toegeskryf aan die vrou wat ongehoorsaam was en daarom kom die predikant ongeskonde daarvan af.

Voor die fisiese kom natuurlik die emosionele manipulering om eers jou bande met jou eie familie te verbreek - al is dit selfs jou eie ouers omdat hulle nie gehoorsaam is aan die wette van God nie. Die doel van die verbreking van familiebande (en so ook enige sosialisering met sogenaamde ongelowiges) is tweërlei: eers om te verhoed dat gemeentelede nie blootstelling kan kry enigeiets wat moontlik kan verskil van die gemeenteleier se predikeing nie en andersyds om die emosionele afhanklikheid van die gemeente en die gemeenteleier te bevorder.

Die gemeenteleier se eie gedrag spruit na alle waarskynlikheid uit sy eie huis en agtergrond en dit waaraan hy blootgestel was as kind. Dalk was hy self onderhewig aan 'n dominante vader wat homself skuldig gemaak het aan mishandeling - beide fisies en emosioneel. Omdat die sielkundige ontleding baie gevaar kan inhou vir die gesag van die gemeenteleier word sielkunde natuurlik ook as taboe vir die gemeente beskou en mag hulle nie daardie kennis gebruik nie omdat hulle dan begin om die Skrif te wantrou en nie te gehoorsaam nie en dus nie lojaal aan die gemeenteleier en sy prediking te wees nie.


Die gemeentelede word gebind deur die denkraamwerk en word vasgevang in die sosiale raamwerk sonder blootstelling aan die buite wêreld. Christus het egter gekom om ons vry te maak van al die negatiewe bande wat ons bind en bied aan ons 'n lewe in oorvloed. Hy wil ons verlos uit die kloue van die dogma, denkpatrone en denkbeheerders waardeur ons gevange gehou word. Hy wil God se Liefde deur ons lewe.

Sunday, September 6, 2015

Hoop die messie glip ...

http://kruispad.com/hoop-die-messie-glip/

Hierdie skakel bring jou by 'n stukkie oor Galasiërs 5: 7-12 wat geweldig interessant is. Die fokus op diegene wat terugval op die wet en die wet probeer onderhou as voorwaarde om in die verlossing te bly. Dit maak Paulus sommer baie uitgesproke oor wat hy wens met die mense gebeur wat dit verkondig.

Ek haal dit hier aan:

Paulus het ’n passie om die jong Christene en gemeentes te help om op die regte pad te stap. Hy span hom in om soveel as moontlik te doen vir ander sodat hulle ook die hekke van die hemel kan oop kry. As die mense ná al die moeite van Paulus weer op die verkeerde pad begin loop, sak sy moed in sy skoene. Hy is so verontwaardig oor die knape wat vir die nuwe Christene die besnydenis as toegangskaartjie na die hemel verkoop dat hy sommer wens hulle messies glip sodat hulle hulle eie manlike dele afsny!
Glo jy my nie?
12Ek wens daardie spul se mes gly ’n slag sodat hulle hulleself ontman. Dan het hulle iets anders om hulle oor te bekommer.
Paulus noem ’n graaf ’n graaf, né! Ek wonder wie hierdie manne was wat die besnydenis so voorgestaan het? Ek wonder of dit nie die kerk was nie? Hulle het tog al die jare geleer dat as jy in die hemel wil kom, moet jy ’n snytjie hê. Wat is die nuwe storie dat dit nie meer nodig is nie? Wat is die storie van genade dan nou? Van voor hulle oupa grootjies af glo hulle al so, hoekom nou verander?
Daarom bly hulle nie stil nie en hulle probeer om die nuwe Christene van Galasiërs te oortuig dat besnydenis wel noodsaaklik is om in die hemel te kom. Maar helaas, die ouens het die bus gemis en ploeter voort op die verkeerde pad. Ai. Die ergste is dat dit nie maklik met hulle sal gaan op die oordeelsdag nie. Hoor hier: 10... Maar daardie persoon wat julle kop so deurmekaar kom krap het, wie hy ook al is, speel met vuur. God se oordeel wag op hom.
Ek wonder soms of alles wat ek glo in lyn is met God se idee. Is daar nie ook gebruike en dingetjies in my geloof waaraan ek gewoond geraak het, maar wat eintlik nie heeltemal in lyn staan met God se idee van glo nie. Neem nou maar die ouens van wie Paulus hier praat. Hulle het aanvanklik geglo dat hulle geloof in sy kruisdood en opstanding genoeg is vir hulle saligheid. Toe kom ander ouens daar verby en sê dat dit nié genoeg is nie. En sonder om regtig te dink, sonder om seker te maak by die Gees of dit die regte rigting is, stap die klomp mense soos dwase agter ’n blinde leier aan. Heeltemal in ’n verkeerde rigting.
Dit maak vir Paulus so mismoedig dat hy wens die ou se mes glip en sny ietsie af.
Voordat ons egter begin vingers wys moet ons seker maak dat ons nie ook agter blinde leiers aanstap nie. So met die jare kom daar maklik gewoontes en maniere by wat nie in lyn is met wat die Bybel sê nie. So maklik glo ons dinge omdat ons ouers se ouers so geglo het.
Miskien moet ons gaan stilsit en seker maak dat dit wat ons glo en die manier waarop ons ons godsdiens uitleef asook die invloed wat ons op mense rondom ons het, getuig van die Waarheid. Paulus sê ’n klein stukkie suurdeeg kan ’n groot invloed hê op die res van die deeg. Net so kan ek en jy ’n groot invloed hê op ander. Die vraag is dan: Het ons die regte suurdeeg? Is die invloed wat ons op ander het positief? Is ons op die regte bus?

Maak erns met die gedagte. Ek hoop dat jy voluit sal bly soek na die waarheid en dat jy sal toelaat dat die Heilige Gees jou lei op die regte pad. En dat jy nie deel sal wees van die crowd van wie Paulus hoop dat die messie sal glip nie!
[Die Bybel-aanhalings is uit Die Boodskap vertaling vir dowes en is uit Galasiërs 5:7-12. Lees dit gerus maar in die ou vertalings ook.]